“Mense neem elke dag so
baie informasie in, dat hulle stadig, maar seker hulle algemene kennis
verloor.”
Ek weet nie wie hierdie
stelling gemaak het nie, maar binne tien sekondes sal my selfoon vir my die
antwoord kan gee. Blitsvinnig.
Daar is beslis baie
voordele verbonde aan tegnologiese vooruitgang, maar hoe slimmer die selfone
word, hoe dommer word die mense...
Skakel af.
Kom ‘n bietjie tot
stilstand, sodat jou sien jou liggaam kan inhaal.
Praat met die mense voor
jou. Luister na die mense om jou. Dis hoe die lewe veronderstel is om te wees.
Wat is so dringend om te
sê dat dit nie kan wag totdat jy die persoon weer sien nie? Is dit so belangrik om elke liewe sepie op
televisie te volg? Is dit nodig om alles
wat in jou lewe aangaan met al jou – sogenaamde – “vriende” te deel?
Soms moet die liggies
net agfesit word. Die DVD-speler, PVR,
DSTV, CD-speler – al die akroniem-toestelle – net stilgemaak word.
Skakel af!
Ek voel dat ‘n groot
deel van die mensdom – veral die jeug – die kuns om sinvol alleen te wees,
afgeleer het.
Nog interpersoonlike
vaardighede wat erg skipbreuk ly, is die eeue oue kuns om te gesels.
Daar moet gesprekke
gevoer word – regte gesprekke! Nie ‘n
telefoon-oproep, SMS, BBM (nóg akronieme) e-pos of enige ander vorm van
elektroniese boodskap nie. Regte
gesprekke.
Dit is amper asof mense
nie meer met mekaar kán praat nie.
SKAKEL AF!
Ek wil jou graag in die
oë kyk as ek met jou praat. Ek wil jou
handgebare en gesigsuitdrukkings sien!
Emosies word gereduseer
tot enkele leestekens en ‘n paar afkortings.
Skakel af.
Praat met die mense om
jou. Sit jou selfoon weg, kyk jou
vriende in die oë – basiese kommunikasievaardighede!
Luister na wat vir jou
gesê word. Moenie so behep met tegnologie
wees dat jou lewe vir jou wegloop nie.
Skakel af!
Voer ‘n gesprek, kyk
mekaar in die oë, luister!
Haal jou oorfone af,
beweeg weg van die televisie af, bêre jou rekenaar, selfoon, slimfoon,
tablet...
SKAKEL NET AF!