Monday 3 June 2013

Opstel: Skakel af!

“Mense neem elke dag so baie informasie in, dat hulle stadig, maar seker hulle algemene kennis verloor.”

Ek weet nie wie hierdie stelling gemaak het nie, maar binne tien sekondes sal my selfoon vir my die antwoord kan gee.  Blitsvinnig.

Daar is beslis baie voordele verbonde aan tegnologiese vooruitgang, maar hoe slimmer die selfone word, hoe dommer word die mense...

Skakel af.

Kom ‘n bietjie tot stilstand, sodat jou sien jou liggaam kan inhaal.

Praat met die mense voor jou.  Luister na die mense om jou.  Dis hoe die lewe veronderstel is om te wees.

Wat is so dringend om te sê dat dit nie kan wag totdat jy die persoon weer sien nie?  Is dit so belangrik om elke liewe sepie op televisie te volg?  Is dit nodig om alles wat in jou lewe aangaan met al jou – sogenaamde – “vriende” te deel?

Soms moet die liggies net agfesit word.  Die DVD-speler, PVR, DSTV, CD-speler – al die akroniem-toestelle – net stilgemaak word.

Skakel af!

Ek voel dat ‘n groot deel van die mensdom – veral die jeug – die kuns om sinvol alleen te wees, afgeleer het.

Nog interpersoonlike vaardighede wat erg skipbreuk ly, is die eeue oue kuns om te gesels.

Daar moet gesprekke gevoer word – regte gesprekke!  Nie ‘n telefoon-oproep, SMS, BBM (nóg akronieme) e-pos of enige ander vorm van elektroniese boodskap nie.  Regte gesprekke.

Dit is amper asof mense nie meer met mekaar kán praat nie.

SKAKEL AF!

Ek wil jou graag in die oë kyk as ek met jou praat.  Ek wil jou handgebare en gesigsuitdrukkings sien!

Emosies word gereduseer tot enkele leestekens en ‘n paar afkortings.

Skakel af.

Praat met die mense om jou.  Sit jou selfoon weg, kyk jou vriende in die oë – basiese kommunikasievaardighede!

Luister na wat vir jou gesê word.  Moenie so behep met tegnologie wees dat jou lewe vir jou wegloop nie.

Skakel af!

Voer ‘n gesprek, kyk mekaar in die oë, luister!

Haal jou oorfone af, beweeg weg van die televisie af, bêre jou rekenaar, selfoon, slimfoon, tablet...


SKAKEL NET AF!

1 comment:

  1. Ek dink soveel ouers sal saam met jou stem Anike. Tegnologie is amazing, maar ongelukkig gaan soveel dinge verlore juis as gevolg daarvan. Dissipline tot effektiewe gebruik is noodsaaklil.

    ReplyDelete